Google
» Afrikaanse Gemeente Dubai :: Duine Nuus
:: Ons Fokus ::
  Jes.43:18-22, Jes.35
  Verheerlik
  Vermenigvuldig
  Verstaan & Verbind
  Versorg
  Versoen
  Volhard
NUUS: Duine Nuus

 

 

Dubai Afrikaanse Gemeente is EEN jaar oud!

Wat ‘n wonderlike dag was dit nie! Ons gemeente ‘n hele een jaar oud.

Die geboortedag was 10 Februarie 2006 toe 15 mense in Mirdif, ‘n voorstad van Dubai, byeengekom het om hulle eerste diens te hou. En sedert daardie gelukkige en geseënde dag in 2006 het ons gemeentetal gegroei tot digby die 200 en groei ons nog steeds. Gemeentelede kom van so ver as Saudi Arabië en dorpe aan die Oman grens om op ‘n Vrydag die erediens by te woon.

Op 9 Februarie 2007 het ons die geleentheid gevier met ‘n kuiergeleentheid en middagete by Nad Al Sheba, oftewel die kameelplaas soos dit onder die Dubaiers bekend staan. Een sinnetjie som dit alles op: die Here het uit ons nate geseën. Dit was soos iemand dit gestel het: “Eg Afrikaanse Fellowship met al die gekuier, eet en mekaar geniet.” Die talle nuwe intrekkers het gou ontdek dat die mense hier jou aanvaar soos eie familie … wat op ‘n Vrydag kerk toe gaan en op ‘n Sondag weer werk toe!

Die vejaardagviering was ook ‘n geleentheid om die Here te dank vir Sy genade en trou en vir Sy leiding in die afgelope jaar. Dit was ‘n geleentheid waarop teruggekyk is na wat die Here hier kom vermag het. Om ‘n kerk in ‘n Moslemland te stig, is ‘n uitdaging wat baie toewyding en gebed vra. Gemeentelede moet soms mooi meet en pas om tyd in te ruim om by die kerk uit te kom te midde van moeilike werksure, druk verkeer en lang afstande. Daar is ook intense geestelike aanvalle waarteen gedurig gewaak en gebid moet word. Dat ons kerk mag wees in ons eie taal in ‘n Moslemland is bewys van God se genade en trou!

Die visie van ons gemeente is gebou op Jes. 43:19-21 waar die Here belowe om ‘n pad (‘n heilige pad volgens Jes. 35) te vestig asook volop water te gee om sy uitverkore volke se dors te les sodat hulle sy lof kan verkondig. Die fokus is die vestiging van bedieningspunte regdeur die Emirate. En waar die Here aan die werk is, daar groei die kerk. Ten spyte van alles wat dit moeilik maak, het die Here ‘n gemeenskap van gelowiges kom vestig wat bid vir mekaar, bid vir Dubai en die Midde-Ooste en wat geestelik in die gaping staan vir hulle wat Hom nie ken nie.

Gert en Lien Els

  

© 2011 SA Gemeente VAE. Alle regte voorbehou