My konserwatiewe pa sou gesê het die kind lyk asof hy teen ‘n muur vasgeloop het. Die blonde hare staan penorent. Die ligte somersbries waai vrugteloos tussen die stokstyf gegomde pennetjies deur. Sy selfversekerdheid getuig van ervaring op wyer front as net Suid-Afrika.
Ons praat oor sy belewenis van oupa en ouma in Suid-Afrika, sy oom in Kanada en ander vaagweg bekende familie in Australië. En dan praat ons oor Jesus. “Ken jy Jesus”, vra ek. Lang stilte. “Hy is mos een of ander profeet van Mohammed”, sê-vra hy met huiwering. Die pyn in my hart draai die lewe uit my uit. Ek kan nie verby die angs in my keel dink of praat nie. Die verlorenheid van die kind voor my in skrille kontras met die selfversekerdheid van ‘n tiener wat al baie gereis en gesien het.
Ek gee vir hom my Engelse Bybel. “Kan jy vir my Genesis opsoek”, vra ek net om seker te maak dat hy werklik niks weet nie. Soos wat ‘n Arabier sy koerant lees, begin hy die Bybel van agter af duim. Hy blaai by die boeke in die Nuwe Testament verby. Dan deur die Ou Testament en mis op ‘n vreemde manier die boek Genesis. Na ‘n tweede probeerslag kom hy by Genesis uit.
Die aand by die huis is ek stom. Hierdie blondekop is maar een van baie kinders in die buiteland vir wie die kerk ‘n besienswaardigheid geword het, die Bybel ‘n vreemde boek en om te bid ’n eienaardige gewoonte. Hulle is mondig in Arabies, maar sukkel om aksentloos in Afrikaans te groet. Hulle ken die nuutste modes en is polities geletterd, maar weet nie wie Jesus is nie.
Waar begin 'n mens die verlore generasie weer oprig om te glo dat God ons Alfa en Omega is, om te glo dat Jesus ‘n onwaardige dood aan ‘n kruishout gesterf het … sodat ek en jy kan lewe.
Miskien begin dit by ‘n verstaan van die andersheid en die eiesoortige uitdagings waarmee hulle hier te doen kry. Ons kinders gaan op ‘n duinesafari sonder bome en bokke. Hulle swem in die vlak poele van die Hatta berge en gly teen die hange by Ski Dubai asof hulle op ys gebore is. Alles om hulle is blink en nuut en getuig van geld. Op hulle jetski in die wyse oseaan is hulle die nuwe James Bond van die Midde-Ooste. Saam met tieners van onbekende kulture en veraf lande kommunikeer hulle in Frans, Engels of Arabies. Hulle word straatwys in ‘n land wat Jesus tot die status van ‘n profeet gereduseer het.
Baie tieners is bevoorreg om ouers te hê wat hulle koester met Jesus se teenwoordheid in die huis. Hulle ken God en weet hoe om Hom op te soek. Ander bly buite God se genade-kring omdat die verlokkinge van die nuwe wêreld te groot geword het, die Moslem-vriend by die skool te oortuigend in sy getuienis oor sy god Alah. Hulle is die kinders van ouers wat Jesus eens geken het.
“Dit is so maklik om God te vergeet waar daar so baie dinge op jou sintuie aanspraak maak”, vertel die blondekop se ma my. “Jy moet verstaan daar is baie uitdagings in Dubai”. Ek sukkel om te verstaan. Wanneer die wêreld jou in sy stywe net begin vasdraai, is dit juis die tyd om na die kruis op Golgota te kyk. Dit is die tyd wanneer jy uitroep, “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” (Psalm 121:1) Die tyd is nou om met ’n gebroke hart en geknakte knieë voor Jesus te kniel en te bely dat die wêreld jou en jou kind ingesluk het. Dit tyd is nou om te bid vir ‘n omkeer en ‘n inkeer terug na Jesus toe! Bid saam hiervoor!

Tot volgende keer
Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain