Oupa se kieries het altyd in ‘n ry op die stoep gestaan en wanneer ek en hy die veld vat om die wêreld te gaan verken, het hy met sorg sy kierie vir die dag gekies. ‘n Fasinerende ritueel. Wat maak dit saak watter kierie ‘n mens gryp, het ek onkundig gewonder? Vir Oupa het dit saak gemaak, want vir elke geleentheid was daar ‘n spesiale kierie wat die regte steun vir die dag sou bied. In die veld het die kierie gedien as balans teen die steiltes op, as wapen teen ongenooide kruipende gediertes, as rigtingwyser om oor die bergrand voor ons te beduie, en om speels in my rigting te mik wanneer ek iets ondeund kwytraak. Mettertyd het ek ook my veldkierie gekry, sorgvuldig gekerf uit hout vanuit die agterrante.
Die dansers voor my het ook elkeen ‘n kierie, maar die doel is gans anders. Die dun kieries wat hulle lustig rondswaai op die maat van tradisionele Arabiese musiek op die “doumbek” (gemaak van klei en bokvel) en die “oud” (‘n snaarinstrument), het geen diepsinnige betekenis anders as om vrolik die sukses van soveel jare te vier nie. Hulle vier fees want dit is Nasionale Dag in die Emirate.
En tog is die feesviering leeg. Ek kan nie help om somber te wonder oor die geestelike kierie wat elkeen van ons so broodnodig het, maar so baie van ons ontbreek nie. Wat hou die vrolike dansers voor my regop wanneer die fees verby is? Waarop leun hulle wanneer dit moeilik word om self voort te stoom? Waarop leun óns wanneer die lewe ons beetkry?
Benewens ons aardse kieries, deel Christene oor die wêreld heen ‘n geestelike “kierie” wat nie wag vir ‘n spesiale geleentheid nie. Dit is nie uitgestal op ‘n stoep vir wanneer die geleentheid hom voordoen nie. Dit is daar vir wanneer dit goed gaan en ons vergeet wat dit is wat ons regop hou en ook vir wanneer ons opnuut bewus raak van hoe weerloos ons in eie krag is. Dit is daar sonder dat ons hoef te vra.
Wanneer die ou patriarg Jakob, steunend en sterwend op sy kierie leun en God prys (Hebreërs 11:21), verbeeld dit meer as net ‘n fisiese daad. Hy is intens bewus van sy eie nietigheid en van God se almag. Omdat Jakob dit verstaan kan hy regop staan, op sy kierie leuen en God prys. Dié God wat hom regop gehou het deur sy lewe, dié God wat met hom gewandel het waar hy ookal gegaan het, dié God wat hom vertroos het wanneer hy met ‘n gebroke hart laag gebuig het, dié God wat hom teen ongenooide gevaar beskerm het, dié God van wie ons in die ou vertaling van Psalm 23 lees, “My stok en my staf, dié vertroos my.”
Wie bied vir jou steun in hierdie feestyd, wanneer almal hulle kieries lustig rondswaai, en daar groot opgewondenheid en feesvierings verby die grense van jou klein bestaan is? God is daar vir jou. Hy wag vir jou om jou op te tel wanneer jy nie meer kan nie, jou regop te hou wanneer jy geestelik sterwend is en jou te begelei en jou steun te wees van nou af en vir altyd.

Tot volgende keer
Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain