‘n Vrou is die spil waarom alles draai. Dit het ek weer besef toe ‘n griepvirus, dié keer van ‘n onbekende Midde-Oosterse herkoms, my vir twee dae lank in die bed gekluister gehou het. Buiten vir die aanval op my liggaam, slaag die griepvirus ook daarin om almal om my se behoeftes tot die minimum te reduseer. Skielik sien niemand meer die vuil kol op die mat raak nie en is ‘n dieet nou die in-ding.
Gevoelloos en tussen die antibiotika-slaap deur dink ek aan my naby en ver kinders. My gedagtes dwaal na die bottel INTENSIVE CARE voor my bed. Dit is met gebed en INTENSIVE CARE dat ek hulle grootgemaak het om die wêreld te gaan ontdek. Dit is met INTENSIVE CARE dat ek hulle versorg, vertroetel en liefhet. Is dit nie ook hoe die Here oor elkeen van ons waak nie? Hy is met INTENSIVE CARE betrokke by ons griepvirus, die stapel vuil skottelgoed, die ongestrykte wasgoed en die miere wat ongenooid die grasperk opvreet. In die regte hoeveelheid en op die regte tyd gee Hy aan ons die geestelike binneaarse voeding wat ons nodig het. Hy koester ons met Sy warm liefde wanneer ons verlate, koud en eensaam voel. Hy is met INTENSIVE CARE by elke klein probleempie betrokke.
Oor die rand van my bed sien ek die bottel HANDY ANDY op die wasbak en ‘n giggel begin in my grieplyf borrel. My man is beslis die HANDY ANDY in die huis. Hy moet die finansies bestuur, skroewe indraai, die kamera se battery vervang en vleis braai op Vrydae. Wat sou ons sonder hom gedoen het? So neem die Here ook beheer wanneer ons gees afgeleef en opgebruik voel en vernuwe en verfris Hy ons met sy vrede en rus. Wat sou ons sonder Hom gedoen het?
Ek dink aan die TOUCH in die spens. TOUCH is ‘n sagte aanraking, ‘n koestering, ‘n versekering van omgee en liefde. In die Ou Testament was TOUCH ‘n belangrike handeling. Veral wanneer hande opgelê is met die doel om gesag oor te dra of die seën oor iemand uit te spreek. Vandag is TOUCH steeds baie belangrik. Aanraking versag mense. God se aanraking bekeer mense.
‘n Hewige nies laat my gryp na die RAINBOW snesies voor die bed. Nog ‘n handvol snesies vee die grieptrane van my oë af. Terwyl ek na die prentjie van die vrolike reënboog op die boksie kyk, dink ek aan Noag. Sê nou maar hy was ongehoorsaam aan God se opdrag om die ark te bou of sê nou maar hy het hom laat onderkry deur die gespot van sy portuurgroep, sou daar ooit ‘n reënboog gewees het? Kan enige van ons ‘n reënboog sien sonder dat daar ook trane in ons lewe is? Aha! Die reënboog is nie die eintlike geskenk of beloning vir ‘n Godafhanklike en Godgehoorsame lewe nie. Die reënboog is daar om ons te herinner aan ‘n groter geskenk: Sy genade. Om God in ons lewe te hê, is genade! Dat ons Hom kan ken en liefhet is AMAZING GRACE!
My seer lyf voel sommer beter. Om ma te wees is AMAZING GRACE! Om vrou te wees is AMAZING GRACE! Siekte en ‘n tot-stilstand-kom om oor God na te dink, is vreugde en AMAZING GRACE! Want …
Wat ook al die vraag, Hy is die Antwoord (Johannes 14:6)
Wat ook al die probleem, Hy is die Oplossing (Matteus 11:28-29)
Wat ook al die seer, Hy is die Heler (Lukas 4:18)
Wat ook al die binding, Hy is die Vrymaker (Johannes 8:32)
Wat ook al die las, Hy is die Verlosser (Johannes 16:33)
Wat ook al die behoefte, Hy is die Voorsiener (Matteus 7:7-8)
Wat ook al die sonde, Hy is die Vergewer (Psalm 103:2-3)

Tot volgende keer
Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain