Google
» Afrikaanse Gemeente Dubai :: Duine Nuus
:: Ons Fokus ::
  Jes.43:18-22, Jes.35
  Verheerlik
  Vermenigvuldig
  Verstaan & Verbind
  Versorg
  Versoen
  Volhard
NUUS: Duine Nuus

 

 
e-buiteland-20080302-perd-1.gifDie hingste van Nad Al Sheba

 
Die Millennium Grandstand by Nad Al Sheba is bekend vir meer as net sy futuristiese voorkoms. Die wêreld se rykste perdewedren word jaarliks hier gehuisves. Met fanfare en vertoon kloek perdeliefhebbers van die uithoeke van die aarde vir een dag saam om dié gebeurtenis mee te maak.

Maar dit is nie hoekom ons vandag hier is nie. Hier is geen wedren nie. Geen jillende of teleurgestelde skare nie. Geen papiertjies wat sonder belofte grond toe fladder nie. Net perdeliefhebbers wat die klein en tingerige jokkie dophou terwyl hy die kolos van ’n dier langs hom met eerbiedige hale roskam. Die blinkswart hings kap-kap met sy gespierde voorpote in die sand. Die energie rimpel op sy lyf. Sy oë is swart poele vol geheimenis, ongeërg oor die bewondering van mense wat ’n versigtige afstand handhaaf. Hy steur hom ewe min aan die ander van sy ras wat uitdagend saam met hom die vertoon deel. Hy is gewoond daaraan om hard en gereeld teen die klok te oefen en, wanneer die tyd daar is, teen ander met dieselfde krag en vaart in hulle gespierde lywe na die eindstreep te mik.

Eenkant, half verskuil van die bewonderende oë van mense, staan ’n donkie onder die koelte van ’n palmboom. Vaal en sonder aansien. Niemand roskam sy gekoekte haardos nie. Sy ore hang en dit lyk asof hy slaap. Nou en dan stamp hy sy pote om van die lastige vlieë ontslae te raak. Die prentjie is een van vrede en van rustigheid.

Net meer as tweeduisend jaar gelede was daar ook ’n donkie, maar die prentjie was iewat anders. Dit was ook ’n helder sonskyndag en langs die pad, net buite die stadspoorte, het die skare begin opdam. Daar was ’n opgewondenheid en ’n afwagting onder hulle. En dan sien hulle waarvoor hulle gewag het! Jesus word op die rug van ’n donkie Jerusalem ingedra. “Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aangekom het, het begin uitroep: ‘Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel!’” (Matt. 21: 8-9)

In sy onaansienlikheid het die donkie ’n liefdesdaad verrig wat deur die eeue simbool sou word van eenvoud, van liefde sonder vergoeding, van gee sonder voorwaarde. Sonder om self raakgesien te word, het die donkie sy kosbare vrag gedra. Die skare het nie sy deug besing of hom vereer nie, maar in sy grootse daad en in sy stille nederigheid het hy ’n beeld by mense kom versterk van ’n Jesus wat mens geword het.

Hoe dra jy vandag jou vrag? Pronkerig soos die hingste van Nad Al Sheba of het die Here jou ’n eenvoud van hart gegee om Hom in die sentrum van jou bestaan te plaas? Is die wêreld beïndruk met jou vertoon of dien jy in nederigheid sonder om raakgesien of erken te word? Waar jy ookal staan, word vandag saam met my deel van die skare wat “takkies van bome afbreek” en “agter Hom aankom” om Hom te prys en Sy Naam groot te maak! Kom ons bely saam met die Psalmdigter: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie” (Psalm 73:25) en kom ons leef dit. Dit maak die Here stil tevrede.

lienels80.gif

Tot volgende keer

Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain


 
© 2006 Dubai Afrikaanse Gemeente. Alle regte voorbehou