Google
» Afrikaanse Gemeente Dubai :: Duine Nuus
:: Ons Fokus ::
  Jes.43:18-22, Jes.35
  Verheerlik
  Vermenigvuldig
  Verstaan & Verbind
  Versorg
  Versoen
  Volhard
NUUS: Duine Nuus

 

 
flag3.jpgWord 'n vlaggiemens

 
Tien blou. Vyf geel. Tien blou. Vyf geel. Vir kilometers lank omsoom die wapperende vlaggies Sheikh Zayed weg. Niemand kan hulle miskyk nie. Die goeie bemarking en vooraf reklame het gesorg dat sowel ”expat” as toeris die betekenis van die blou en geel kleure verstaan. Die vlaggies is daar om dit opnuut onder jou aandag te bring dat besigheid met die bekende konstruksiemaatskappy al jou wense om eiendom in Dubai te besit kan waarmaak.

Sover as wat ek ry, brug op en brug af, oor verskillende snelweë begin ek ook ander vlaggies opmerk. Rooi en ligblou. Groen. Al die helder kleure wat die oog van die haastige padgebruiker sal vang. En almal dra dieselfde boodskap van verlokking om dit wat aangebied word, te wil besit.

Dié aand sit ongeveer 50 studente in my klas, almal sakelui, gretig om te leer en gretig om te ontvang wat ek aan te bied het. Vir ‘n oomblik kyk ek net na hulle terwyl die beeld van die vlaggies weer voor my opdoem. Behalwe my ouderdom, wat sien hulle wanneer hulle na my kyk? Watter “reklame” doen ek wanneer ek aand vir aand voor my studente staan? Vir wie doen ek hierdie reklame? Watter reklame doen elkeen van ons as Christen wanneer die wêreld na ons kyk? Wat is die boodskap wat ons uitwapper? Is dit wat ons as Christen kan aanbied, so verloklik dat hulle dit graag sou wou hê? Terwyl ek voor hulle staan en hulle my nuuskierig en afwagtend aankyk is ek bewus van die leegheid in sommige se oë. Hulle is suksesvolle sakeleiers en staan in dinamiese beroepe, maar dit is al. Hulle is gevul met ’n doodsheid en voer ’n hooplose enkelbestaan sonder ’n Vader.

Vir ’n oomblik is ek oorweldig deur die dringendheid van ons rol in hierdie land. Ek staan net daar oopoë en bid dat die Here ons sal lei in ons omgang met mense wat Hom nie ken nie of wat Hom versaak het omdat die wapperende vlaggies van die wêreld ’n sterker en meer aanloklike boodskap het om te verkondig. Met ’n erns wat waarskynlik op my gesig moes wys, vra ek die Here dat hy elke student sal aanraak en sal laat sien dat Christenwees en ’n lewende verhouding met Hom alles bied wat die wêreld nie kan nie. Ek bid vir krag en genade om elke aand te wapper asof die sterkste woestynwind my aanvuur.

Die aand na klas vra ’n skugter gesluierde student om my te kom sien oor ’n persoonlike saak. Na ons gesprek oor die probleem begin sy spontaan oor godsdiens praat. Sy wll weet of ek ‘n Christen is. Sonder terughouding deel sy haar waarneming van Christene wat so anders as ander is ...

Meer as ooit tevore, besef ek die verantwoordelikheid en betekenis van Christenwees. Om ’n lewende verhouding met die Here te hê beteken dat ons nie ”aan hierdie sondige wêreld” gelyk kan word nie (Romeine 12:2). Ons boodskap moet anders wees as ons ’n verskil wil maak. Dit het Paulus goed verstaan toe hy aan die gemeente in Filippi geskryf het: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.” (Filippense 1:27). Om in ooreenstemming met die evangelie te leef, beteken dat daar nie plek is vir ons ou natuur van “onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al derglike dinge” nie (Galasiërs 5:19 – 21). Ons leef in ‘n God-lose en goddelose tyd waarin ons die beste gebruik moet maak van elke geleentheid (Efesiërs 5:16) om die karakter van Jesus na te volg en uit te leef. Dit kan alleenlik gebeur wanneer Hy werklik in ons leef en ons verhouding met Hom sodanig is dat geen ander boodskap langs ons lewenspad sterker wapper as Sy unieke opdrag nie. Mag jou vlaggie van vandag af wapper in die lewe van ander en mag die Here jou kragtig gebruik om Sy boodskap uit te LEEF!

lienels80.gif

Tot volgende keer

Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain


 
© 2006 Dubai Afrikaanse Gemeente. Alle regte voorbehou