Google
» Afrikaanse Gemeente Dubai :: Duine Nuus
:: Ons Fokus ::
  Jes.43:18-22, Jes.35
  Verheerlik
  Vermenigvuldig
  Verstaan & Verbind
  Versorg
  Versoen
  Volhard
NUUS: Duine Nuus

 

 
e-buiteland-20080302-perd-1.gifDie lekkende fles

 
Die ouderdom het die glans in die ou oë tot wysheid verdof. Die humor en lewensblyheid van baie jare het diep karaktervore om die tandlose mond gekerf maar die liefde vir die lewe is steeds onmiskenbaar deel van die kromgetrekte Arabiese lyf. In geradbraakte Engels en met knopperige hande begin hy in woordprentjies beduie-vertel.

Die boer het elke dag langs die duin afgestap rivier toe om twee flesse vol water te skep vir huisgebruik. Mettertyd het een van die flesse ’n kraak aan die kant ontwikkel, maar sienloos het die boer sy daaglikse ritueel volgehou. Tot op ’n dag.

Die gekraakte fles kon dit nie meer uitstaan om halfvol op die kombuistafel te beland nie. Kan die boer dan nie sien dat dit die helfte van sy kosbare inhoud langs die kronkelpad uitlek nie? Vertwyfeld oor sy lewensnut en diep gekwets deur sy onvolmaaktheid begin die fles met die boer praat: ”Waarom maak jy my elke dag vol water as jy weet dat ek halfvol by die huis aankom? Watter waarde het ek nog vir jou huishouding? Waarom maak jy my nie eerder tot niet en kry ’n heel fles om jou te dien soos dit hoort nie?”

Na ’n lang bepeinsing oor die gewigtige vraag, antwoord die boer. ”Kom saam met my rivier toe dan wys ek jou waarin jou waarde lê.” Soos in die voorafgaande maande stap die boer met sy twee flesse rivier toe. Soos in die voorafgaande maande maak hy albei vol. Op sy terugtog sit hy sy flesgesprek voort. ”Kom kyk hier”, sê hy geheimsinnig. ”Sien jy hierdie blombedding langs die pad? Toe ek agterkom dat jy water lek, het ek al langs die kronkelpad blomsaad gesaai. Jou water was genoeg om die saad te laat ontkiem, te laat groei en te laat blom tot vreugde van almal wat hierlangs loop. Dit maak nie saak dat jy halfvol by die huis aankom nie. Jy dien op ’n ander manier as die vol fles. Ten spyte van jou kraak sorg jy vir baie vreugde. Jou waarde lê nie daarin om soos die ander fles te wees nie. Jou waarde lê daarin dat jy uniek is en ten spyte van jou sogenaamde onvolmaaktheid volmaak is. Vir my is jy dus kosbaar.”

Die fles het skaam en met versigtige eerbied begin praat: "Meester, laat ek U dien soos dit U behaag. Mag U gee dat ek myself nooit weer met ander sal vergelyk nie, maar dankbaar sal wees oor die wyse waarop U my gebruik. Mag ek U altyd in nederigheid dien met kraak en al.”

Ons is almal flesse op pad rivier toe en terug. Miskien het jy ‘n kraak aan die kant en is jy so oorbewus daarvan dat jy ‘n selfopgelegde nuttelose bestaan voer omdat jy glo dat jy geen waarde in die lewe het nie. Of miskien is daar in jou lewe ‘n boer wat die lewensnut en lewensvreugde uit jou uitstamp met harde woorde en blaam oor jou onvolmaaktheid ... en jy glo dit! Net miskien het die lewe jou gebuig en sukkel jy om weer regop te kom.

Wat ons ookal glo oor onsself, vir jou en vir my is daar ook ‘n Boer wat ons ondanks ons onvolmaaktheid liefhet en waardig ag vir Sy koningkryk. Hy het ons nie nodig nie. En tog gebruik Hy ons as Koningskinders om die hemel en die aarde nader na mekaar te bring. Ten spyte van ons krake en ons onvolmaaktheid moedig Hy ons aan om Hom te dien en vir ander tot seën te wees. (Psalm 8:4 – 7).

Glo dit en leef vandag waardig en soos ’n vrygemaakte Koningskind.

lienels80.gif

Tot volgende keer

Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain


 
© 2006 Dubai Afrikaanse Gemeente. Alle regte voorbehou