As kinders het my pa ons dikwels gewaarsku teen die dreigende Rooi Gevaar met hulle vreemde ideologie uit Rusland. Oupa weer het sterk menings gehad oor die Geel Gevaar uit China wat ons net met hulle getalle sou kon oorrompel. Wat sou hulle sê as hulle nou na dié gesprek kon luister?
Voor my sit mense vanuit Lichtenstein, Australië, Nepal, Lebanon en Poland. “Jy moet van Russiese herkoms wees?”, sê-vra die een. Ek ‘n Rus? Wat sou pa hiervan gesê het? Die ander een is van mening dat ek “definitief van Duitse herkoms” is. “Ek is van Suid-Afrika”, verlos ek hulle van alle spekulasie. “Jy lyk dan nie so nie.” Die betekenis van dié stelling ontgaan my steeds, maar ek weier om toe te laat dat hulle onkunde oor my land in ‘n identiteitskrisis ontaard.
In die halfuur wat ons kuier na die vergadering, dank ons ‘n paar presidente af. Ons verlos die wêreld uit sy ekonomiese drukgang, ons stop die gat in die osoonlaag toe en ons verbied enige vorm van onderwys vir kinders jonger as vyf jaar. Hulle moet weer leer speel en met kaalvoete in die modder (of sand) hulle koekies bak. As ‘n toegif, besluit ons verder dat dit net soveel eenvoudiger sal wees as ‘n nuwe wet alle lande verplig om voortaan aan die linkerkant van die pad te bestuur … Politici en ander ingeligtes sou ons onkunde oor die “werklikheid” waarskynlik met swaarmoedigheid aangehoor het.
Die middag na werk wandel ek in my swembad-grootte tuin en dink weer oor die lekker gesprek van die oggend. Die ongeletterdheid oor my land en sy mense is weliswaar steurend, maar watter aardse onkunde maak meer saak as onkunde oor wie God is? Dit is ‘n gewigtige vraag wat die beeld van Hosea se waarskuwing aan die mense van sy dag herroep. Sy waarskuwing het niks te doen gehad met politieke ingrepe of met lande wat met mekaar oorhoops was nie, maar met die oningeligtheid van die mense van sy tyd en hulle onwilligheid om aan die Here toegewyd te wees (Hosea 4:6).
Daar is talle voorbeelde in die Bybel waar moeite gedoen is om die mense van die dag bewus te maak van wie God is. Die tien gebooie is op kliptafels geskryf (Exodus 20:1 – 17) as ‘n voortdurende herinnering aan God se opdrag. Profeteskole is opgerig (1 Samuel 19: 18 – 24; 2 Konings 2: 3 – 15) met die doel om jong manne op te lei vir profetiese en priesterlike take. Paulus het talle briewe geskryf, want sê hy, ek wil “hê dat julle ingelig moet wees.” (1 Korintiërs 12:1) In Handelinge 17:11 word die mense van Berea geprys: ”Die mense daar [in Berea] was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê.” Jesus weer vermaan sy aanhoorders wat nie die verband tussen Sy boodskap en dissipelskap verstaan nie: ”Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” (Johannes 5:39). Hoe hartseer is ‘n gebrek aan kennis of ‘n onwilligheid om uiteindelik te doen dan nie! Gedurende sy laaste dae in die tronk, vra Paulus vir Timoteus om vir hom drie dinge saam te bring wanneer hy besoek kom aflê: “As jy kom, moet jy die reismantel saambring wat ek by Karpus in Troas laat bly het [om warm te bly], en ook die boeke [om te lees], veral die perkamente [om te skryf?].” (2 Timoteus 4:13). Paulus wóú meer leer en meer doen om mense van onkunde te verlos.
Buiten ’n nie-weet-nie, is die grootste gevaar dat ons weet wat goed en aanneemlik is vir God, ons Verlosser, “wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom”, maar dat ons nie vir ander die boodskap verkondig dat “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het” (1 Timoteus 2:4-5). My boodskap vir jou is, Carpe Diem! Gryp die geleentheid! Een meer vir Jesus!

Tot volgende keer
Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain