Ek verstaan nie Hindi nie, maar geen vertaler is nodig om die woede en ergerlikheid van die man se lyftaal te verstaan nie. Hy beduie, skud sy kop verontwaardig en rammel die woorde teen afslaer-spoed af. Die skuldige probeer nog verduidelik, maar die onskuldige beduie en skel totdat hy uitasem na suurstof snak. Dit is ernstig as iemand in jou vasry en tog kan ek nie help om die humor raak te sien in die petalje voor my nie.
Waaroor is die onskuldige die kwaadste? Omdat hy laat is vir sy volgende afspraak of omdat die skuldige sy blink motor se vorm verander het? Of miskien omdat die polisie eers moet uitkom om te besluit wie kry die rooi vorm (die oorsaak van die ongeluk) en wie die groen vorm (die slagoffer in die saak) ... en dit neem tyd!
Die onskuldige is nie die enigste een wat onvergenoegd is nie. Agter my begin motoriste ongeduldig op hulle toeters blaas. Hulle sit vasgeknyp in ’n drukgang en kan nie vorentoe of agtertoe beweeg nie. Die sensasie, die enigste verposing van die dag, is verby. Nou is dit weer terug na die realiteit van voortjaag na die volgende item in die besige dagboek.
Christene is nie immuun teen spanning en gejaagdheid nie. Ons dae word geken deur vroeg opstaan en laat gaan slaap. Tussenin probeer ons meet en balanseer om die eise van die dag ingepas te kry en slaag ons selde daarin om baas te word van die minute wat onverpoos en met ritmiese slae ons lewensduur aftik. Ons is selde ’voor’. In Dubai is die pas veral vinnig en is daar ’n ongedurigheid oor wat nog gedoen kon word, maar nie gedoen is nie. Die ewige resies het tot gevolg dat vervreemde man en vrou en vervreemde kinders in die aand opgebruik by die agterdeur instrompel. Oor ons dae staan geskrywe BESIG.
Die hartseer is, aan die einde van ons lewe gaan ons niks meer onthou van die suksesvolle vergadering wat ons dié Maandagoggend gehad het nie. Ons gaan nie meer onthou van die indruk wat ons gemaak het met die grootse projek wat betyds die sperdatum gehaal het nie. Ons gaan niks onthou van die klop op die skouer vir die lang ure wat ons as getroue werknemers opgeoffer het nie. Ons gaan onthou van die tyd toe ’n kind my vir ’n MacDonalds-ete genooi het en ek nie tyd gehad het nie. Ons gaan onthou van die keer toe die kinders alleen die kombers oor hulle skouers gevou het en daar niemand was om van die Here te vertel of die wang te knyp nie. Ons gaan onthou van die Valentynsete wat ons misgeloop het en nie toe kon verstaan waarom daar so min begrip vir die ‘baie belangrike projek’ was nie. Ons gaan onthou van die man of vrou wat dringend met iemand wou praat, maar niemand geken het wat omgee-tyd oorgehad het nie.
Die Here gee vir ons tyd. Wanneer ons so vir mekaar omgee dat ons bereid is om tyd te gee, noem ons dit liefde. Wanneer ons afhanklik genoeg van die Here is om tyd saam met Hom deur te bring, kry ons meer tyd om die dinge wat ons moet doen, af te handel. Die lewe is nie sonder uitdagings nie, maar ons het ’n bron wat die eise van enige donker en besige dag kan verander. Psalm 118 vertel van ’n lys van probleme wat insluit nood (vers 5), aanvalle (vers 10), en kastyding (vers 18). Maar ons lees ook in dieselfde psalm “Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees” (vers 24). Die psalm is gevul met ‘n genieting en ’n feestigheid oor die Here se goedheid en genade te midde van probleme, uitdagings en verswelging. Vers 14 is ‘n soort triomf: “Die Here is my krag en my beskerming”, wanneer ons deur die dag hardloop, maar ook wanneer ons tot stilstand kom omdat ons wil.
Kom ons wees bly oor elke dag. Kom ons maak vandág tyd om lekker saam met die Here te kuier en Hom net te geniet vir wie Hy in ons lewe is.

Tot volgende keer
Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain