Omtrent ‘n kilometer van die eindstreep af dam die skare al breër en dieper langs die straat, wagtend op ’n vriend of familielid om verby te kom. Die spanning is voelbaar. Gaan die geliefde vandag die eindstreep haal? Hoe lank nog voordat hulle verbykom?
Wanneer die eerste atleet oor die bult kom, begin die skare spontaan juig. Wie kan dit wees? Soos wat die deinserige gestalte al meer mens word, begin hulle woel om beter te kan sien. Uiteindelik is hy herkenbaar naby. Die skare lag, fluit en klap ritmies hande soos wat die atleet nader kom. Die ander atlete kom ook een-een in sig. Hulle is moeg en druipnat van inspanning. Sommige sleep hulle tam lywe met uiterste wilskrag en inspanning vorentoe.
Wanneer ’n bekende verbykom hardloop die toeskouer-vriend ’n ent saam en moedig die atleet aan om vas te byt. ”Nog net ’n klein entjie!” ”Moenie nou moed verloor nie, jy is amper daar!” ”Hou aan, jy kan!” ”Die eindstreep is in sig!” Die eenvoudige woorde het ’n verstommende uitwerking. Die wat skaars kon loop, kry nuwe krag en met wankelbene maar ’n breë glimlag en ’n hand gelig in erkenning, begin hulle weer draf. Dit is pynlik om die beproewing te aanskou, maar terselfdertyd is die effek van die aanmoediging oorweldigend.
Aanmoediging! Hoe nodig het ons dit nie in die daaglikse resies van ons bestaan nie! Hoe nodig het ons nie iemand wat ons aanmoedig en saam hardloop wanneer ons net genoeg krag oor het om ‘n hand te lig nie? Hoe broos en kragteloos is ons nie in ons eie menswees nie. Hoe nodig het ons dit nie om in hierdie wêreld sonder limiet aangemoedig te word nie.
Die Hebreër skrywer het die stryd goed verstaan wanneer hy skryf: ”Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly nie ... maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.” (Hebreërs 10:24-25) Watter aansporing deel jy aan ander uit wanneer hulle jou pad kruis? Watter erns maak jy wanneer hulle bene kragteloos word en hulle sukkel om die pas vol te hou? Moedig jy hulle aan om vol te hou? Is jy die een wat die verbyganger se naam uitroep en sê: “Hou goeie moed, dit is nog net ‘n klein entjie. Die wenstreep is in sig!”
Jesus kom weer. Kan ons bekostig om in die bietjie tyd wat oor is, die atleet mis te kyk en ’n woordlose toeskouer van sy stryd te word? Ons word gemaan in Fillipense 4:5: ”Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.” In Jakobus 5:8 lees ons: …dit is nie meer lank nie, dan kom die Here” en in Openbaring 22:12 ”Kyk ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het.” Hoe bemoedigend is jou woorde?
Miskien is jy vandag die een wat aanmoediging nodig het. Miskien is jy die een wat voel dat jou bene nie meer die vrag van swaarkry, hartseer of alleenheid kan dra nie. Waaruit put jy jou krag om aan te hou wanneer daar niemand langs die straat van jou lewe staan om jou naam uit te roep of vir jou te sê dat die oorwinning in sig is nie? Die Here kom vertroos jou wanneer hy sê: “’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie; ‘n lamppit wat dof brand sal hy nie uitdoof nie … Ek hou jou vas, Ek beskerm jou.” (Jesaja 42:3 en 6) Die Here maak vandag aan jou ‘n belofte vir die tye wanneer die grond naby is en die hemel ver voel: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Hebreërs 13:5) Hy is by jou om jou aan te moedig al is die strate van jou lewe leeg.
Mag hierdie woorde jou genoegsaam versterk om die wenstreep te haal!

Tot volgende keer
Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain