‘n Tiener meisie vertel van haar stryd en antwoord?
In ons jong en groeiende gemeente in Dubai is die Jeugbediening ‘n ernstige fokuspunt. Nie sonder rede nie. Ons het baie tieners in Dubai wat nie ‘n kerk van enige aard bywoon nie. Hulle ouers het kerkloos geword in die gejaagdheid van die kompeterende lewe hier en is soos die spreekwoordelike kooltjie wat afgekoel het omdat dit nie naby genoeg aan die vuur van die gemeenskap van gelowiges sit om warm te bly nie. Wanneer ouers afkoel, verkluim kinders. Ons sien dit in die tienermeisies wat deur ryk buitelanders en Arabiere opgepik word. Hulle is maklik herkenbaar aan hulle duur juwele, wêreldwysheid … en soekendheid. Daarom is die getuienis wat een van ons pragtige tieners, Monya Lirie Botes, tydens ons Jeugdiens gelewer het so aangrypend en aanmoedigend vir ons jong gemeenskap.
Monya Lirie vertel:
Ek het in my skool vriende gemaak met kinders wat aan die Moslemgeloof behoort. Aanvanklik het alles goed gegaan totdat hulle met my begin gesels het oor my geloof. Hulle het allerhande vrae begin vra waarop ek nie altyd antwoorde gehad het nie. Hulle redenasies het my al meer laat twyfel aan my eie geloof en my verhouding met Jesus Christus. “Is dit waarin ek glo die waarheid? Is dit nie miskien reg om ‘n Moslem te wees nie? Die invloed was baie sterk en dit het vir my gevoel dat ons aanbid tog dieselfde God. Ek het ook gesien dat hulle ryk is en alles het. Hoekom kan ek nie maar soos hulle wees nie? Hoekom nie ‘n Moslem word nie? Maar terwyl ek so in stryd is, het ek my Bybel begin lees. Dis toe dat die Here vir my die volgende vers kom gee: God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. … Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op Hom. (Johannes 3: 16 en 36) Hierdie vers was vir my die antwoord op my stryd en ek weet dat daar net een ware God is en dit is Jesus Christus, ons Verlosser. Ek dank die Here dat Hy weer eens Sy liefde in my hart kom vestig het.”
Ons gemeenskap is saam dankbaar vir ouers wat geestelike voetspore trap vir kinders om in te volg! Maar ons wil ook bid vir ouers wat hulle geloofsankers tot niet gemaak het. Ons will bid dat hulle kinders paaie sal kruis met jongmense soos Monya Lirie wat opstaan vir Jesus!

Tot volgende keer
Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhab/Al Aini