‘n Jeugkamp was nog altyd ‘n grootse ervaring vir die wat daaraan deelneem. Dit was ook nie anders met ons eerste jeugkamp in die Hatta-gebergtes nie.
Vir diegene wat by die spoedgrens hou, is die Hatta kampterrein sowat ‘n uur-en-’n-half se ry van Dubai in die rigting van Oman. Ons het Vrydagoggend met ‘n bus vertrek vanaf Jebel Ali en gery tot net buite Hatta. Daar het die jeugleiers met hulle 4X4’s reggestaan om die kampgangers oor ruwe terrein en smal stofpaadjies die berge in te neem. Die kampterrein is geleë tussen die swart berge so eie aan die Hatta omgewing en die walle van ‘n wādī oftewel وادي - Arabies vir ‘n droeë rivierbed wat net loop wanneer dit reën.
Hoe nader ons aan die kampterrein gekom het, hoe stiller het die tieners geraak. Vir baie was dit die eerste kennismaking met ‘n kerkkamp. Alles het aanvanklik voel-voel gegaan, maar die kampprogram met die tema Verhoudings, het die tieners in hulle kern geraak. Soms het dit moeilik gegaan omdat meeste van ons tieners nie meer Afrikaans kan lees of skryf nie. Hulle kon egter openlik gesels

oor die uitdagings waarmee hulle as Christenkind in ‘n Moslemland worstel en hoe dit alle verhoudings met maats, onderwysers en familie raak. Hulle het ook opnuut weer kon kennis maak met dié Here wat dit alles moontlik gemaak het.
Ons aan-die-brand jeugleier, Charl du Plessis en ons stoute kamp-pa, Louis van Zyl het gesorg vir ’n goed-gebalanseerde program waarin tieners mekaar op geestelike vlak beter kon leer ken en net weer kon
speel. Na die onlangse oorvloed reën, het die rivier genoeg water en loop in hom gehad om die tieners te laat afkoel na die besige program van die middag.
Die terugtog deur die stowwerige bergpad was anders. Nou was dit as tiener wat die Here beter ken en wat ‘n verhouding met ouers en maats begeer waarin Hy sentraal staan.