Google
» Afrikaanse Gemeente Dubai :: Duine Nuus
:: Ons Fokus ::
  Jes.43:18-22, Jes.35
  Verheerlik
  Vermenigvuldig
  Verstaan & Verbind
  Versorg
  Versoen
  Volhard
NUUS: Duine Nuus

 

 
ebuiteland20070603mat.gifDie mat in my voorhuis

Die blou Suouk (uitgespreek ’soek’) skitter in die laatmiddag son. Binne is die mengelmoes van kleur oorweldigend en begeerlik mooi.

Sonder kompas pyl ek reguit na die winkeltjie met sy kleurryke matte. Die matverkopertjie lok my in soos ‘n ou verlore vriendin. ”Baie mooi!“, sê hy met ‘n blink glimlag. My hart vermurwe onder sy entoesiasme. Net op die straathoeke by die Menlyn-sentrum in Pretoria het ek meer entoesiastiese verkopers raakgeloop. Hierdie een het selfs die kernwoorde om my koperslus aan te wakker, met sorg bemeester.

”Ek dink nie hierdie mat is so ‘n goeie koop nie!“, praat ek agteraf met my man. Die ywerige matverkoper vang die kernwoorde en begin ywerig verduidelik ”Goeie koop, goeie koop!“ Ek voel ontwapen dat ek nie eers meer in Afrikaans kan knoei wanneer ek so voel nie. Hy pluk ‘n pakkie besigheidskaartjies uit. ”Kyk!“, wys hy ywerig. Almal kaartjies met boerename daarop gedruk. Sommige van Dubai, ander van die Kaap tot in Musina.

Sy woordeskat word tot die uiterste beproef toe ek in hoogdrawende Afrikaans aan my man die wenk deurgee dat ons weer later ”die matte vir verdere oorweging kan kom besigtig“. Hy blaas egter nie die aftog nie. Die prys val skielik toe ek die deur bereik. My momentele huiwering is al wat hy nodig het om met hernude ywer sy ware in my huis in te bie.

Op pad huis toe peins ons oor die redes waarom die mat uiteindelik in die kattebak beland het. Hoekom het ons regtig die mat gekoop? Ek kan aan baie (geldige) verskonings dink, maar ek weet my weerstand (en my gesonde verstand) het vermurwe onder die aanslag van sy volgehoue entoesiasme en sjarme.

Waaroor raak ons entoesiaties? Oor wie raak ons entoesiasties? Met wie deel ons hierdie entoesiasme? In 1 Tessalonisense 5:16 lees ons die volgende opdrag: ”Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.“ Soms kruis ons paaie met mense wat nie regtig bly wil wees nie. Onder geen omstandighede nie en oor niks nie. Om die een of ander rede verkies hulle om die lewe verskuild agter ‘n donkerbril gade te slaan. Hulle sug swaarmoedig oor die ellende van hulle ”omstandighede“ en verkneg hulleself aan mense wat ook so voel. Dit word ‘n spiraal van negatiwiteit en selfbejammering.

Wat verander dit alles? Wat oortuig mense dat daar ‘n uitkoms is? Dat dinge anders kan wees? Net ons entoesiasme oor wie God in ons lewe is! Tyd heel nie regtig wonde nie, maar insig wel. Insig kom wanneer ek God in sy grootheid ontdek en weet dat niks by Hom onmoontlik is nie. ”Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”, is wat Paulus ons kom leer in Filippense 4:4.

In my stiltetyd onderneem ek om elke keer wanneer ek oor hierdie mat loop, aan iets te dink waaroor ek bly en entoesiasties kan wees. Al kan ek nie die omstandighede van my naaste verander nie, kan ek in gehoorsaamheid en met entoesiasme die opdrag van blymoedigheid uitleef sodat dit aansteeklik afvryf op ander wat die vermoë om bly te wees langs die pad van swaarkry verloor het.

lienels80.gif

 

Tot volgende keer

Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhab/Al Aini


 
© 2006 Dubai Afrikaanse Gemeente. Alle regte voorbehou