Die Arabiese prinses
Die Jakaranda-blou oë staar afgetrokke na my. Blonde hare krul moedswillig onder die “Abaya“ (sluier) uit. Sy praat suiwer Afrikaans. Nou en dan dwaal haar oë na die vrolike kind wat op haar tone al om ons flinder. “Dit is oor haar wat ek my die meeste bekommer˝, bely sy in ‘n sagte stem.
Haar verhaal is een van verwardheid. “Ek het altyd gedink dat ek vry sal wees die dag wanneer ek die stof van my ouerhuis van my voete kan afwas. Dubai was vir my ‘n ekstatiese droom waarin ek die hoofrol vertolk van ‘n Arabiese prinses wat ontsnap van alles wat sleg en verkeerd is. My pa die alkoholis, en my ma die verslete vrou met die sigaret in die hand, het my nie probeer keer toe ek een oggend vroeg aankondig dat ek op pad is nie.˝ Sy sukkel om die opstandigheid in toom te hou. “Ek kon nie meer die sleur van ‘n dag-tot-dag bestaan aanskou van mense wat lankal nie meer omgee nie en vir wie die dood ‘n verlossing sou wees nie. Ek wou nie so leef nie. Toe vlug ek! ˝
In Dubai ontmoet sy toe haar prins in wit gewaad. Hy is Arabies en baie welaf. Sy word deel van die blinkstad met al sy verleidelikhede, haar prins aan haar sy. Saam verken hulle die groot inkopiesentrums en word die juwele al bonkiger en duurder, die etes en partytjies al uitspattiger. Saf van al die bederf, dink sy nie tweemaal toe hy haar vra om te trou nie. Daar is net een probleem. Sy is ‘n Christen. Voordat die prins nog kon dink om te vra, versaak sy haar geloof en word ‘n Moslem.
Haar geluk ken geen perke nie. Vir ‘n tyd lank sweef sy tussen werklikheid en realiteit ... totdat hy haar een aand ‘n behoorlike loesing gee. Sy skuil vir weke lank agter die swart gewaad van haar lang kleed en bedek haar gesig sodat net die oë doods die lewe om haar in heroorweging neem. Die afgryse van die daad is te oorweldigend om te verstaan en die skielike nugterheid oor wat haar toekoms inhou versmorend.
En nou sit sy hier voor my. Ek sien tegelykertyd die vernedering, en ook die verligting om uiteindelik daaroor te kan praat. Sy is nie meer die Arabiese prinses nie. Haar man nie meer ‘n ridder vir wie sy alles sou versaak nie. Haar vlug uit haar vroeëre ontsnapping het plek gemaak vir ‘n nuwe soort gevangeneskap. Een wat veel wreder is as wat enigiemand verdien. Benewens die vreemdsoortige kultuur en idees rondom ‘n vrou se plek in die samelewing, is sy gevange in ‘n geloof wat hoop-loos is.
Kom ons bid saam; ek en jy vir mense soos sy. Vader, U ken haar en U Seun het ook vir haar aan die kruis gesterf. Kom vlieg soos ‘n arend onder haar in sodat sy op die vlerke van U genade en liefde uit die put van verderf gered kan word. Bereik haar deur U Gees en gebruik ons Heer, om U Lig onweerstaanbaar uit te straal.
Lien Els