Die sak om die palmboom
Ry vir ry staan hulle daar; verdwerg in die skaduwee van die gebou wat die hoogste ter wêreld gaan word. Hulle staan toegevou in hulle sakgewade, die bruin buiteblare netjies oormekaar gevleg en stewig in die sak vasgebind. Onaantreklik en vaal. Gereed om geplant te word.
Die sak bly wanneer die palmbome die dag geplant word. Dit is daar om die sagte ontluikende lewenskern van die boom te beskerm. Daarsonder sou die palmbome tot poeier verdor in die fel woestynson en warm somerwind. Wanneer die sagte kern genoegsaam ontwikkel het en bo die onaansienlike bruin blare uitgroei, word die sak afgehaal, die bruin blare afgekap en die nuwe palmtakke oopgesprei om die omgewing te verfraai.
Daar is letterlik ‘n paar miljoen palmbome in en om Dubai en sy buurdorpe. En almal word op dieselfde sorgsame manier vertroetel en versterk vir die groeityd en vrugte-dra tyd wat voorlê. Die dooie palmtakke word gereeld afgekap en die stam sorgsaam gebeitel om ten beste te vertoon. Vrugte-dra tyd word die sagte geel dadelvruggies in ’n deurskynende sak omhul om seker te maak niks gaan verlore nie. Sou dit gebeur dat ’n palmboom nie vrug dra nie, word hy met hernude ywer vertroetel en versorg. Tog is daar palmbome, wat ten spyte van die beste sorg, vrek. Hulle word uitgehaal en weggegooi ...
Wat ’n fasinerende praktyk is dit nie, dink ek. Watter les hou dit vir ons in? Wat kan ons leer uit hierdie beeld van die palmboom? Ons staan immers ook in die woestyn. Klein en nietige mens, in die skaduwee van ’n oormag nie-gelowiges. Maar is ons gereed om geplant te word? Sommige van ons wens die bruin sak weg omdat ons self aan die stuur van ons groei wil wees. Ander wag geduldig op die Here om inspraak te gee oor wat Sy wil is. Nog ander word willoos deur die gang van elke dag meegesleur, bruin en verdor en sterwend in hulle geestelike lewe. Oorgegee om weggegooi te word?
Die Here is wagtend op elkeen van ons. Gereed om ons met Sy “sak” van liefde en sorg toe te vou. Al lyk ons vaal en onaansienlik geskroei deur die lewe, sien Hy die groeipunt wat wag om te ontluik. Die Here staan afwagtend en nooi jou uit om Hom toe te laat om betrokke te wees by hierdie groei sodat jy sterk en stewig kan staan, sodat jy en ek die omgewing kan verfraai; sodat ons kan vrugte dra om die wat geestelik honger is, te voed met die vrug van ons geloof. Al het jy iewers langs die pad jou blus verloor, al is jou buiteblare verkai-ing deur sonde, ons Vader gooi niemand weg nie.
Die Here het ‘n groei-afspraak met elkeen van ons. Tot dan, vou Hy ons toe …

Tot volgende keer
Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhab/Al Aini