Twee bladsye vol koerantfoto’s van belangrike en aansienlike mense vertel wie het gearriveer, wie is op pad en wie hoop nog. Hulle is mooi mense. Almal spoggerig geklee in die nuutste modes en ontwerpersjuwele. Die haarstyle gestreep en gelak tot ’n styl wat die stywe gesig ten beste vertoon. Hulle glimlag gemoduleerd, berekend en ... leeg.
Op ’n manier laat sommige foto’s my aan Al Sufouhweg se poue dink. Trots en bewus van hulleself, wei die poue teen laatmiddag op die stukkie groen grasperk tussen die straat en die muur wat die paleis van nuuskierige verbygangers afsluit. Hulle bloupers stertvere staan gewaaier in die lug. Die vol lywe trap hoog en selfvoldaan rond. Die kraalogies in die klein koppies meewarig gedraai in die rigting van die druk middagverkeer. Instinktief weet hulle waar die grense van hulle heiligdom loop.
Poue is trots. Die ou Afrikaanse spreekwoord, so trots soos ‘n pou, bevestig dit. Ek worstel met die beeld van die mooi mense en die poue. Is dit sonde om trots te wees? Die antwoord word reguit en eenvoudig gestel:
“Die Here haat ses dinge, nee daar is sewe waarvan Hy ‘n afsku het: oë wat straal van hoogmoed en ’n tong wat lieg ...” (Spreuke 6:16). Om dit in tienertaal te verduidelik, die Here haat mense met ’n ”houding”, want hy toets die gesindheid van ons harte.
Ons mag trots wees op ons prestasies wanneer die bedoeling is om God daardeur te verheerlik (Kolossense 3:17). Indien nie, is die waarskuwing duidelik: ”As jy verwaand opgetree het en jou aangestel het, of as jy slegte bedoelings het, hou op daarmee.” (Spreuke 30:32) Trots, hoogmoed en eiewaan kan vernietigend wees! Trots is wat Israel onwillig gemaak het om ag te slaan op die waarskuwings van die profete dat hulle hul verkeerde weë moet laat vaar (Jeremia 13:9-16). Trots is wat die Fariseërs daartoe gebring het om Jesus as die Messias te verwerp en te kruisig
Tot wie se eer werk ons, leer ons, doen ons dinge? Tot wie se eer lééf ons? Is dit die eie-ek of is dit Jesus? ’n Vinnige toets kan jou by ’n antwoord uitbring. Hoe reageer jy wanneer iemand jou kritiseer? Is jou eerste reaksie een van verwerping en selfgelding? Is dit woede oor die aanmatigende houding van die kritikus? ‘n Trotse mens word kwaad wanneer iemand anders sy aansien uitdaag. ’n Trotse mens sien homself nie as feilbaar nie. Die feit dat die aantuigings verkeerd kan wees, maak nie vir hom saak saak nie. Wat saak maak is dat iemand sy trotsheid gedaag het. Jesus is ook vals beskuldig maar, in plaas daarvan om woedend te word, het Hy sy saak aan die Here oorgegee om Hom vry te spreek. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” (Jakobus 4:6)
Miskien sal ons foto’s eendag in die blaaie van die hemelse boek verskyn, nie omdat ons belangrik was nie, maar omdat ons in ons nederigheid, naak en gestroop van eiebelang op Jesus gefokus het. En dan sal die vreugdesange van engele in die hemeltrans weergalm oor elke foto van God se kinders!

Tot volgende keer
Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain