Die span tuiniers sit met hulle rûe geboog teen die warm namiddagson wat teen ‘n ongenadige 46ºC neerbak. Hulle bewegende hande die enigste teken dat hulle nog nie tot rots versteen het nie. Hoe hulle vir so lank in hierdie posisie kan sit is onverklaarbaar. Hulle enigste fokus die Petunias en Afrikanertjies wat ry op ry die beddings vul. Elke nou en dan skuifel die skurwe voete in woestynplakkies ‘n paar tree verder na waar die sandgrond nog braak tussen die swart besproeiingspypies lê.
Dubai is bekend vir sy pragtige tuine. Uitgestrekte grasperke en sorgvuldige gevormde beddings bedek kilometers van hierdie wonderland. Water word met die nuutste tegnologie aangelê na die uithoeke van die stad sodat die sagte sproeireën twee keer per dag die dorstige beddings kan voed.
Maar net soos besoekers dit soms vreemd vind dat die woestyn soveel kleureprag kan oplewer, vind ek die gedagte vreemd dat ons soms vergeet dat ons ganse menswees om twee tuine sentreer. Tuine is so oud soos die mens. Ons het nog altyd toegang daartoe gehad.
Twee bekende tuine word spesifiek in die Bybel beskryf: die tuin van Eden en die tuin van Getsemané. Maar hoe verskillend was hierdie twee tuine nie. Adam, die eerste mens vind sy lewe in die tuin van Eden (Genesis 2:8). Eden was ‘n pragtige tuin vol “bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet” (Genesis 2:8) Adam kon eet van die boom van die lewe in die middel van die tuin en dit geniet vir solank as wat hy bereid was om sy verbond met God te eerbiedig. Adam sondig egter deur te eet van “die boom van alle kennis” (Genesis 2:6) en verloor alle reg op die boom van die lewe. Deur sy sondedaad bring hy die dood na die ganse mensdom oor alle tydsgrense heen.
Adam se sonde word die rede waarom Jesus homself in die tuin van Getsemané bevind. Hy is daar om te herstel wat Adam in die tuin van Eden verloor het. Hy neem Adam se sonde op Hom en gee daardeur ‘n tree nader aan Sy eie dood (Handelinge 5:30; 1 Petrus 2:24). Jesus sterf vir Adam en vir jou en my aan ‘n houtkruis. Hy oorwin die dood en herstel die boom van die lewe vir diegene wat glo.
Die tuin van Eden waar Adam tot ’n val gekom het bestaan nie meer nie. Maar daar sal ‘n dag kom wanneer Jesus, wat alleen in Getsemané gely het vir die sondes van die mens, weer sal kom om volkome herstel te bring: Die vloek oor die aarde sal gelig word wanneer diere weer in vrede saamwei (Jesaja 11:6-8), woestyne verdwyn (Jesaja 35:6), die aarde kreun van oorvloed (Amos 9:13) en Jesus hier sal wees om Sy volk te seën (Openbaring 21:3).
Wanneer jy weer in jou tuin sit, dink na oor wat Jesus vir my en jou kom doen het toe Hy in die tuin van Getsemané alleen was met sy hartseer en pyn, toe Hy in “doodsangs” vasgeknoop is en Sy sweet soos “bloeddruppels” op die grond geval het (Lukas 22:44). Dink na oor Sy oorweldigende liefde vir jou en my toe Hy bereid was om met Sy lewe te betaal vir sondes waaraan Hy nie skuldig was nie. Kyk weer na jou tuin en geniet die feit dat alles deurdrenk is van Sy grootse teenwoordigheid en die belofte van Sy Wederkoms.

Tot volgende keer
Lien Els
Afrikaanse Gemeente Dubai/Abu Dhabi/Al Ain