“So sê die Here, ... Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring ... om
my volk, my uitverkore volk, se dors te les. Dit is die volk wat Ek vir My geskep
het, en wat my lof sal verkondig. Jes 43:16-21 asook Jes 35.
“As iemand dors het, laat hom na my toe kom en drink! Met die een wat in my glo, is dit soos die Skrif sê:”Strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Hiermee het Hy na die Gees verwys ...(Joh
7:37-39)
God is ‘n Padmaker. Hy maak ’n pad in die woestyn. Jesaja 35:8 beskryf dit
as ‘n gewyde pad. Dis 'n heilige pad waarop slegs rein mense (God se kinders)
loop. God is ook 'n Landskapsvernuwer. Hy gee volop water in die woestyn.
Hy laat riviere in die droë wêreld ontspring en die dorre wêreld verander
Hy in ’n lushof (Jes 35: 1 en 7). So is die nuutheid wat Hy bewerk in Dubai.
Alles met ‘n doel – ‘n Volk (gemeente) wat sy Lof verkondig. Deur die Gees
wat op die Pinksterdag uitgestort plaas God ons op 'n heilige weg en verander
Hy ons lewens in ’n lushof. Hy skenk ons die oorvloedige seën van 'n lewe
onder die beheer van die Heilige Gees. Hy ontwikkel ons karkater - mense
sien en ervaar dat Jesus in ons leef. Hulle “proe” die
negevoudige vrug van die Gees (Gal 5:22) en veral wat liefde behels. Die
Gees gee aan ons krag - deur Sy gawes (1 Kor 12 -14, Rom 12, 1 Pet 4) en
mense beleef liefde in aksie.
In die karakter (vrug) en in die krag (gawes) van die Gees leef ons heilige
lewens vir God, mekaar en die wêreld en is ons missie om mense
te bereik wat Jesus nie ken nie
te bring tot belydenis van geloof en lidmaatskap
te begelei om al hoe meer soos Jesus te word
te bemagtig tot gawebediening
te bemoedig om enduit te volhard
tot eer van God drie-Enig.
Ons wil ook aan elkeen die geleentheid bied om betrokke te raak by
Verheerliking van God - aanbidding
Vermenigvuldiging van Sy ryk - evangelisasie
Verstaan van en verbind aan Sy wil - dissipelskap
Versorging deur God, van mekaar en ander - bediening
Versoening met God en naaste - gemeenskap
Volharding in die oorwinning van Jesus - gebedsintersessie